Toe die lat nog geswaai het

in #bierpens5 years ago

pak-gee.jpg

Kosie, nee, ek praat nie van 50 Shades nie.

Deesdae swaai die lat mos nie meer nie. Toe ek op skool was, het ek pak gekry. Ek was stout. Fokken stout. Ek het nie net by die skool slae gekry nie, maar by die huis ook. Was 'n pak slae 'n goeie ding? Soveel mense, soveel menings.

Pa het selde ses van die bestes gegee. Meestal het hy net een of twee houe gegee.

Mnr. Kruger, skoolhoof toe ek in standerd ses was, het seker gedink enige iets minder as vyf is net 'n mors van tyd. Die dag as hy ses gegee het, was die sesde hou seerder as die vorige vyf saam. Hy het so vyf middelmatige houe gegee en dan een helse sesde hou.

Mnr. Strydom het Aardrykskunde gegee. Hy het gereeld slae uitgedeel, maar sy houe was flou. Dit was meer 'n grap-episode as die seuns in 'n ry verby hom moes loop, vinnig buk en elkeen 'n hou gekry het.

Na Mnr. Kryger, was daar Mnr. Opperman. Hy het drie rottangs gehad. Jy kon kies watter een. Nadat jy die rottang vir jou eie gat gekies het, moes jy in die boek teken. Dan het jy gesien hoeveel houe jy gaan kry, watter oortreding jy begaan het, en wat die datum was. Hy het my een pouse vang rook, en dit was die eerste keer wat ek pak slae by hom gekry het. Ek het soveel stories gehoor oor hoe hard hy bliksem, dat ek sommer vergeet het watteer dag dit was toe ek in sy kantoor gewag het. Ek kon die datum toe darem in sy boek sien. En ses houe!
Mnr. Opperman het nie gespeel nie. Hy het GEBLIKSEM. Elke hou ewe hard.

Het pak slae gehelp vir my? Ek glo so. Menige kere het ek twee keer gedink voordat ek stront aangevang het vir so twee weke nadat ek 'n loesing gekry het.

Wat was erger as ses van die bestes? Detensie. Ek het detensie gehaat. Ek was vol energie, en om op 'n Vrydagmiddag in die somer in 'n warm klaskamer te sit, was nie vir my nie. Gelukkig het die onderwysers geglo aan die lat swaai, want vryheid ontneem was vir my erger as brandboude.

Sou ek minder stout gewees het as ek meer detensie gekry het en minder pak slae? Ek glo nie so nie, glad nie. Daar was 'n rebel in my en detensie het die rebel in my wakker gemaak.

(Hierdie inskrywing het oorspronklik op my blog by Bierpens.co.za verskyn. Skakel: https://bierpens.co.za/toe-die-lat-geswaai-het/ )